Vir die meeste Engelsprekendes beteken die akroniem ASAP “so gou as moontlik” of onmiddellik. Maar vir die Christen kan dit iets anders beteken, naamlik Always Say A Prayer. Koning Hiskia was een van Juda se beste konings. Hy het die volk na die Here laat terugkeer nadat sy vader, koning Agas, soveel booshede begaan het (2 Konings 18:3-4). Nogtans, toe die koning van Assirië Juda aangeval het, het Hiskia oorgegee en die goud van die tempel afgestroop om die aanvallers tevrede te stel (vs. 13-16). Dit het egter nie die Assiriese koning tevrede gestel nie en hy het nog ’n dreigement geuiter. In daardie stadium het Hiskia hom tot die Here gewend. Hy het gebid: “U alleen is God oor al die koninkryke van die aarde … red ons tog uit die mag van die Assiriese koning. Dan sal al die koninkryke van die aarde besef dat U, Here, alleen God is (2 Konings 19:15-19). Toe Hiskia gebid het, het die Here onmiddellik gehoor en ingegryp en hom uit die hand van sy vyande verlos (2 Konings 19:35-37). Jy mag miskien ook vandag voor ’n probleem staan, ’n probleem wat jou hulpeloos en bekommerd laat voel. Miskien het jy jou werk verloor, of miskien is daar siekte, familieprobleme of wat ook al. Ons het ’n almagtige God na wie ons al ons probleme kan bring. So, voordat jy enigiets anders doen – ASAP – bid altyd tot God.