Wanneer dit vandag by kommunikasie kom, is ons wêreld besig om al meer hoogtegnies te raak. Die gewildheid van Twitter, Facebook en die Internet mag persone laat dink dat die Bybel outyds geword het. Die tegnologies ingestelde mense in ons wêreld mag voel dat die Bybel uitgediend is, omdat al die moderne dinge nie daarin genoem word nie, maar die waarheid is dat daar kragtiger tegnologiese krag in die Bybel is, as wat die wêreld ooit sal ken. Dis glad nie ongewoon dat ’n lidmaat aan ’n pastoor sê: “Toe u dit gesê het, was dit die presiese boodskap wat ek op daardie oomblik nodig gehad het.” Op een of ander wyse het God gedurende daardie diens met dié spesifieke persoon gepraat en vir hom of haar die boodskap gegee wat op daardie oomblik nodig was. As jy al ooit, terwyl jy die Bybel gelees het, beleef het dat die Here direk met jou praat, sal jy weet wat ek bedoel. God het met jou gewerk deur sy Gees wat jou verstand verlig het, sodat jy die Woord kon verstaan. Verbeel jou om ’n “sms” direk van die Skepper af te kry wat vir jou sê presies wat jy op daardie spesifieke oomblik moet doen. Maak nie saak hoe hoogtegnies die ou wêreld raak nie, jy sal nooit ’n kragtiger metode van kommunikasie kry nie. Verheug jou in die werklikheid dat ons “die Gees wat van God kom” (1 Korintiërs 2:12) ontvang het sodat ons “die verborge dinge van God” kan verstaan.