Ek het so baie by Broer Lawrence geleer ten opsigte van bewustheid van God. Hy was ’n kok in ’n 17de eeuse klooster en het ’n boek geskrywe met die titel, The Practice of the Presence of God. Hy noem in sy boek praktiese maniere waarop jy gedurende die loop van die dag “jou hart aan die Here kan offer,” selfs te midde van ’n besige skedule van kosmaak en skoene heelmaak. Jou geestelike diepte, aldus Broer Lawrence, vereis nie dat jy dit wat jy doen moet verander nie, maar dat jy jou motiewe moet bekyk – doen dit wat jy doen vir die Here en nie vir jouself nie. Een van die lofredes wat oor hom uitgespreek is, sê: “Die goeie Broer het God oral gevind, terwyl hy besig was om skoene heel te maak, kos te maak of te bid … Hy het God voor oë gehad en nie die taak wat hy moes verrig nie. Hy het besef dat hoe meer die taak eintlik teen sy natuurlike voorliefdes was, deste meer was die liefde wat hy daardeur aan die Here geoffer het.” Hierdie laaste opmerking het my vrou baie diep geraak. Terwyl sy met bejaardes in die agterbuurtes van Chicago gewerk het, was dit soms nodig om take te verrig wat teen haar natuurlike instinkte gegaan het. Terwyl sy dan hierdie minder aangename take aangepak het, het sy haarself daaraan herinner om die Here in gedagte te hou. Selfs die moeilikste take kan as ’n offer aan die Here verrig word (Kolossense 3:17).