In 1826 het die Britse skrywer, Thomas Carlyle, met Jane Welsh in die huwelik getree. Sy was self ’n bekwame skryfster. Tog het sy hom heelhartig ondersteun en haarself daaraan toegewy om hom te dien. Aangesien hy aan ’n seldsame maagprobleem gely het, was hy temperamenteel. Hy moes spesifieke soorte kos eet. Sy het alles vir hom voorberei en haar bes gedoen om die huis so stil as moontlik te hou sodat hy met sy skryfwerk kon voortgaan. Thomas het oënskynlik nie raakgesien of waardeer wat Jane vir hom gedoen het nie en het min tyd saam met haar deurgebring. Tog het hy die volgende woorde aan sy moeder geskrywe: “Ek mag sê dat sy my liefhet met ’n liefde wat my verstand te bowe gaan, iets wat ek nie verdien nie. Sy kyk my met soveel deernis aan, al is ek negatief en depressief en gevolglik kry ek nuwe hoop elke keer as ek haar sien en in haar oë kyk.” Ons het ook Iemand wat ons liefhet met ’n onbegryplike liefde – ’n liefde wat vir ons as sondaars onverstaanbaar is, want ons verdien dit nie. Hy is God, die Vader wat “sy eie Seun nie gespaar [het] nie, maar Hom oorgelewer [het] om ons almal te red” (Romeine 8:32). Sy liefde is “wyd en ver en hoog en diep” (Efesiers 3:18,19) en gaan ons verstand te bowe. Dis baie belangrik dat ons God se liefde verstaan, sodat ons daarin “gegrondves” (vs. 17) kan wees. Mag dit van elkeen van ons waar wees.