Ek het ’n tiener uit ’n Christengesin hoor sê: “My ma dink nie dis so sleg om te vloek nie.” Toe het hy aangedui watter woorde sy aanvaarbaar gevind het – woorde wat al lank al as onaanvaarbaar beskou is. Die samelewing se standaarde wat taalgebruik aanbetref, het die afgelope jare baie agteruitgegaan, maar dis nie nodig dat ons as Christene daarmee moet saamgaan nie. As ons strewe om “baie versigtig” te wees hoe ons lewe (Efesiërs 5:15), moet ons nadink oor ons woorde en hoe ons God kan vereer. Ons verbly die Here wanneer ons onderskeiding toon ten opsigte van dit wat ons sê. “Wie sy woorde tel, is verstandig” (Spreuke 10:19). Wanneer ons praat, moet ons ons woorde versigtig beoordeel: “Wie sy mond en sy tong in toom hou, hou hom uit gevaar” (Spreuke 21:23). Dis belangrik om vriendelike en positiewe woorde te gebruik – selfs as jy moeilike sake moet aanspreek. “’n Sagte antwoord laat woede bedaar; ’n krenkende woord laat woede ontvlam. Die woorde van wyse mense maak kennis iets begeerliks” (Spreuke 15:1,2). En laastens, vermy woorde wat ons, as Christene, in ’n slegte lig plaas. Paulus vermaan ons: “Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is” (Efesiërs 4:29). Hy stel hoë standaarde vir ons. Om die Here op elke terrein van die lewe te verheerlik, gebruik net woorde wat vir Hom goed en aanvaarbaar is.