’n Dame in Oregon is aangekeer toe sy oor die 200 kilometers per uur gejaag het, met haar kleinseun in die motor by haar. Toe sy deur die verkeerspolisie voorgekeer is, het sy gesê dat sy eintlik net besig was om haar kleinseun te leer dat hy nooit so vinnig moes ry nie. Sy wou seker hê hy moes doen wat sy sê en nie doen wat sy doen nie. Die Fariseërs en die skrifgeleerdes het skynbaar dieselfde probleem gehad. Jesus het hulle hard en genadeloos veroordeel. Volgens Hom was hulle geestelik bankrot. Hy het hierdie twee groepe verantwoordelik gehou vir die swak geestelike toestand waarin die volk verkeer het. As opvolgers van Moses, die man wat die wet oorgedra het, was hulle verantwoordelik om toe te sien dat die volk in God se weë loop en in verhouding met Hom lewe (Deuteronomium 10:12,13). Maar hulle persoonlike interpretasie en toepassing van die wet, het vir hulle belangriker as God se wet geword. Hulle was nie langer besorg dat die Here geëer moes word nie, maar het eer vir hulleself gesoek. En Jesus het hulle geopenbaar vir wat hulle was – skynheiliges en huigelaars. Die toets wat bepaal of ons Jesus waarlik volg, is nie net te vinde in wat ons sê nie, maar in hoe ons lewe en wat ons doen. Leer ons ander uit die Woord en doen ons self wat die Woord sê? Kom ons lewe waarlik tot eer van die Here in woord en daad.