Daar is mense wat diepe behoeftes het, baie, baie diep. Die digter Alfred Tennyson, het geskryf: “Nooit het die oggend aand geword, of iewers is daar iemand wie se hart gebreek het.” Somtyds verkeer ons in gesprek met vriende wat deur diepe beproewinge gaan en dan voel dit vir ons asof ons nie weet wat om vir hulle te sê nie. Hoe kan ons “dié wat moeg is … moed inpraat” (Jesaja 50:4)? Om sulke mense mee te deel wat ander menslike beraders ons geleer het, mag miskien ’n sekere impak op hulle hê. Maar die woorde wat die meeste help, is die woorde wat die Here Jesus ons geleer het en wat ons in sy Woord vind. Daarom is dit noodsaaklik vir ons om aan die voete van die Here te sit, sodat ons van Hom kan leer. Hoe meer ons van Hom ontvang, deste meer het ons om aan ander mense mee te deel. George McDonald sê dat hierdie tyd met die Here vir hom voel soos of hy as ’t ware ’n vertrek met die Here deel. Hy vervolg: “Uit daardie vertrek moet ’n mens openbaring, wysheid en krag vir jou broer en suster voortbring. Dis vir daardie doel dat die mens gemaak is.” Dis deur ons aandagtige en biddende Bybelstudie, Bybellees en kommunikasie met God dat Hy eindelik tot ons harte spreek. Hy gee ons die “regte woorde om te gebruik” (Jesaja 50:4) sodat ons iets het om te deel met diegene wat in die dieptes van wanhoop verkeer en moedeloos is.