Die Taj Mahal in Indië is ’n pragtige mausoleum. Dis geheel en al van wit marmer gebou. Die keiser, Shah Jehan, het dit laat oprig ter gedagtenis aan sy vrou wat baie skielik oorlede is. Dit het 22 jaar geneem om dit te voltooi. Jaarliks besoek miljoene toeriste hierdie gedenkteken wat die keiser laat oprig het ter gedagtenis aan die vrou wat hy innig liefgehad het. Miljoene toeriste reis ook na Jerusalem om ’n ander gedenkwaardige plek te besoek – die graf waar hulle sê dat Jesus moontlik begrawe was. Maar ongeag waar sy graf ook al is, Hy het dit slegs vir ’n paar dae gebruik. Dit is al vir meer as twee duisend jaar leeg. Dis nie vir ons nodig om ’n mausoleum vir Jesus te bou nie. Hy het vir ons die Heilige Nagmaal gegee, ’n herinneringsteken aan Hom en dit wat Hy vir ons gedoen het. Die nag toe Hy verraai is, het Hy die brood en die beker geneem en sy Vader gedank voordat Hy dit aan sy dissipels gegee het (Lukas 22:14-21). Elke keer wanneer ons aan daardie maaltyd deelneem, moet ons eers onsself ondersoek en ons verhouding met Jesus in oënskou neem (1 Korintiërs 11:28). “Gebruik dit, elke keer … tot my gedagtenis. Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom” (1 Korintiërs 11: 25,26). Die Here het ons iets gegee wat ons altyd herinner aan wat Hy vir ons gedoen het.