Obadja is die kortste boekie in die Ou Testament maar tog is daar in daardie geskrif ’n baie belangrike waarheid opgesluit – iets wat ons almal raak. Hoe moet ons optree wanneer ons sien dat ’n vyand probleme ondervind? Die profeet Obadja het opgetree in die tyd toe Jerusalem hewig aangeval is deur die Babiloniese magte. Die bure van die Jode in Jerusalem, die Edomiete, was besig om hulle te verheug in Jerusalem se teëspoed. Hulle het selfs die vyand toegejuig en aangemoedig om dood te maak en te vernietig (Psalm 137:7-9). Ironies genoeg is hierdie spottende woorde geuiter deur persone wat verlangs familie van die Jode was. Die Jode was die nageslag van Jakob en die Edomiete van Esau. Obadja het die Edomiete bestraf omdat hulle hulle in die ellende van die Jode verheug het: “Jy moes jou nie daarin verlekker het dat jou broer se dag gekom het nie, die dag toe die ongeluk hom getref het” (Obadja 1:12). Indien iemand al herhaaldelik verkeerd teenoor ons opgetree en ons seergemaak het, is dit so maklik vir ons om behae daarin te skep as hulle swaarkry. Maar die Skrif waarsku ons: “Moet jou nie verheug oor jou vyand se val nie, moenie juig wanneer hy ondergaan nie” (Spreuke 24:17). In plaas daarvan behoort ons met deernis en ’n gesindheid van vergifnis op te tree teenoor hulle wat ons verontreg het. Die Here sal vergeld op sy tyd.