Dit was ’n eenvoudige takie, maar tog skynbaar te moeilik vir my. Een van die items op my vrou se lys was sojasous. Ek het egter nie geweet watter soort sojasous Sue in gedagte gehad het nie. Nadat ek in die kruidenierswinkel op en af gestap het en naderhand hulp by die assistent gevra het, het ek sommer die eerste beste bottel sojasous gegryp, dit in die waentjie geplaas en verder gegaan. Eers toe ek die kruideniersware by die huis uitgepak het, het ek ontdek dat Sue sojamelk wou gehad het en nie sojasous nie. Dit was vir ons kleindogter Eliana bedoel en alhoewel ek opreg was in my soeke, het ek nogtans die verkeerde item gebring. Dit was die verkeerde goed en Eliana kon dit nie gebruik nie. Dis tragies dat daar baie mense is wat vandag deur die “kruidenierswinkel” van die lewe stap met die item “hemel” op hulle lys, maar hulle kry nie dit wat hulle nodig het nie. Ten spyte van hulle opregte soeke en die hulp van ander, gryp hulle naderhand sommer enigiets – enigiets wat hulle nie in die hemel sal bring nie omdat dit ’n “ander evangelie” (2 Korintiërs 11:4) is. Jesus sê: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe, behalwe deur My nie” (Johannes 14:6). En Petrus sê: “Daar is geen ander Naam op die aarde aan die mense gegee waardeur God wil dat ons verlos word nie” (Handelinge 4:12). Neem Jesus aan. Daar’s geen ander evangelie nie.