Het jy al ooit gedroom dat jy van die bed afval of van ’n hoë hoogte neerstort en dan met ’n skok wakker geword? Ek kan onthou hoe ek as jong seun dikwels met daardie verskriklike, angswekkende gevoel wakker geword het. Ek het gehoor van ’n man wat hierdie sensasie gekry het net nadat hy aan die slaap geraak het. Hy het wakkergeskrik, bewus daarvan dat hy val en hy was so bang dat hy nie weer aan die slaap kon raak nie. Hy was bang hy gaan dood en het hom verbeel dat hy in ’n donker, bodemlose put sou neerstort. Een aand toe hy deur ’n begraafplaas gestap het, het hy skielik die volgende woorde op ’n grafsteen gesien. DIE EWIGE GOD IS ’N SKUILPLEK, SY ARMS IS ALTYD ONDER JOU. Hierdie woorde het hom meteens daaraan herinner dat wanneer gelowiges te sterwe kom, word hulle deur die Here na hulle hemelse tuiste geneem. Hy het weer aan die woorde van die psalmdigter gedink: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig” (Ps. 23:4). Die man wat voorheen so bang was, het meteens besef dat hy, in lewe en dood, ja selfs as hy slaap, in die hande van die Here is en dat die Here daar is om hom te beskerm en vas te hou. Daardie aand kon hy ’n lied uit sy kinderdae sing: “Leer my om die graf net so min as my bed te vrees.” Eindelik kon hy rustig aan die slaap raak, sonder vrees.