Ek was in New York Stad en dit was Paassondag 7:30. Ek was die enigste persoon by Jimmy se Eetplek in Oos Haarlem. Skielik het ’n man die vertrek ingekom en my tafel genader. “Goeie môre” het hy gesê, “mag die Here jou seën.” Hy het ’n traktaatjie op die tafel neergesit en haastig uitgestap. Ek het geglimlag en met dankbaarheid daaraan gedink dat God oral sy mense op diens het. Daardie aand het ek en my dogter, Debbie, ’n erediens bygewoon en die entoesiastiese skare van ongeveer 300, die meeste tussen 20 en 30, het die Here geloof en geprys. Hulle liefde was aansteeklik en hulle het ’n helder lig laat skyn in die stad wat gewoonlik as so donker geag word. In die eerste eeu n.C het Paulus Korinte besoek, ’n stad wat bekend was vir immoraliteit en korrupsie. Toe hy teenkanting ondervind terwyl hy die evangelie verkondig het, het God met hom gepraat: “Moenie bang wees nie; hou aan met preek en moenie stilbly nie, want Ek is by jou. Niemand sal jou aanval of jou kwaad aandoen, want in hierdie stad behoort baie mense aan my” (Handelinge 18:9-10). Waar ons ook al mag gaan, ons hoef nie bang te wees nie, want die Here se mense is ook daar teenwoordig. Die opgestane Here is kragtig teenwoordig in en deur almal wat aan Hom behoort. God se mense is ook daar waar jy nou is. Kyk uit vir hulle en sluit by hulle aan. Christus het waarlik opgestaan.