Somtyds is dit beter om te swyg as jy valslik beskuldig word. Maar by ander geleenthede moet jy praat. Toe valse getuies Jesus voor die Sanhedrin aangekla het, het Hy geswyg (Markus 14:53-61). Om Homself te verdedig sou nutteloos wees. Buitendien was Hy besig om die profesie van Jesaja 53 vers 7 in vervulling te laat gaan. Maar by vorige geleenthede het Hy die Farisiëers berispe en uitgedaag om te bewys dat Hy gesondig het (Johannes 8:13-59). ’n Pastoor het uit sy gemeente bedank omdat sekere lidmate valse aantygings teen hom gemaak het. Hy het gedink dit sou onchristelik wees om homself te verdedig. Maar in hierdie geval was dit nodig dat die moeilikheidmakers aangevat moes word en hulle valse aanklagte uitgewys word. Hy moes hulle aangemoedig het om hulle te bekeer of anders sou hulle deur die kerklike tug gedissiplineer moes word. Om stil te bly kan oortreders toelaat om ongehinderd op die verkeerde pad voort te gaan. Maar as die Heilige Gees jou lei om te swyg, of as jy maar net jou eie eer wil beskerm, bly dan liewer stil. Word jy miskien tans valslik van iets beskuldig? Indien dit vir jou voel dat dit vergeefs sal wees om te argumenteer, of as jou eer gekrenk is, vra die Here om jou die genade te gee om te swyg. Maar as jy oortuig voel dat die kwaaddoeners tereggewys moet word, en die saak openbaar gemaak word, praat dan.