Iets wat aanvanklik as ’n versameling begin het, het gegroei tot ’n moontlikheid om ander te bedien. Larry en Mary Gerbens is al die afgelope 10 jaar besig om artistieke werke oor die Verlore Seun van Lukas 15 te versamel. Hulle versameling sluit ’n skildery van Rembrandt in en heelwat ander artikels van bekende kunstenaars wat hierdie episode uitbeeld. Die Gerbens gesin wou graag hulle versameling met ander deel en het ’n uitstalling by ’n plaaslike kollege gehou. Larry het gesê: “Die kunstenaars het ons bedien en nou hoop ons dat hulle werk ook vir ander tot seën sal wees.” Terwyl ek tussen die kunswerke deurgestap het, het ek diep onder die indruk gekom van die afgedwaalde seun se diepe berou, sy opregte belydenis, en die wonderlike vergifnis van sy vader wat so treffend uitgebeeld word in ’n verskeidenheid van skilderye, sketse, etswerke, graveerwerke en op sydoeke. Ons was almal as’t ware soos die seun in die verhaal. Ons het ander planne vir ons lewe gekoester as wat ons Vader vir ons bedoel het. Ons het van Hom weggevlug (Romeine 3:10-12), maar nogtans verwelkom Hy ons met ope arms terug. Jy sal ook die wonderlike vergifnis op die Vader se gelaat raaksien as jy jou tot Hom bekeer en uitroep: “Pa, ek het teen God en teen Pa gesondig … (Lukas 15:18). As jy afgedwaal het, keer nou terug huis toe en ondervind sy wonderlike liefde.