Tydens ’n evangelisasiediens in Ierland was die prediker besig om te verduidelik wat dit beteken om in Christus te bly en Hom volkome te vertrou. Toe hy sy boodskap afsluit, het hy die volgende woorde ’n paar keer herhaal: “Dit beteken dat jy in elke omstandigheid kan sê: ‘Hiervoor het ek Jesus.’” Daar is geleentheid gegee vir getuienisse. ’n Jong dame het opgestaan en gesê: “’n Paar minute gelede is ’n telegram aan my oorhandig. Dit lees: ‘Moeder is ernstig siek; neem onmiddellik die trein en kom terug huis toe.’ Toe ek daardie woorde gelees het, het ek geweet dat vanaand se boodskap spesifiek vir my bedoel is. My hart het uitgeroep ‘Hiervoor het ek Jesus.’ Dadelik het nuwe moed, vrede en krag my lewe ingestroom.” Drie of vier weke later het die evangelis ’n briefie van die jong dame ontvang. Dit het so gelui: “Baie dankie weer eens vir die boodskap van nou die aand. My lewe het ’n ononderbroke lofpsalm geword, want ek het eindelik tot die besef gekom dat ongeag wat die lewe ook al oor my pad bring, daarvoor het ek Jesus.” Die gelowige in Christus het meteens ontdek dat Christus haar Redder is wat haar deur vuur en deur waters heen sou dra en haar “na oorvloed” uitlei (Psalm 66:12). Wat ’n wonderlike genade! Indien jy tans deur ’n moeilike tydperk gaan, onthou: “Hiervoor het jy Jesus”