“Minder as die minste van God se gunsbewyse” was die woorde wat die 17de eeuse Engelse digter en prediker, George Herbert, op sy seëlring laat aanbring het. Hy het al sy briewe en geskrifte so onderteken. Jakob het woorde met min of meer hierdie betekenis uitgespreek toe hy God se goedheid ten spyte van sy eie sonde en skande oordink het: “Ek is al u gunsbewyse nie werd nie, ook nie die trou waarmee U my versorg het nie” (Genesis 32:10). Die woord “genadegawe of gunsbewyse” kom van die Hebreeuse woord chesed, wat God se ewige liefde beteken. Ek dink dis belangrik dat dit uit die mond kom van iemand wat homself as totaal onwaardig voor God beskou het. Jakob het volkome op God se onfeilbare liefde vertrou en uitgeroep: “Red my!” Wat ’n vreemde kombinasie van gedagtes: Aan die een kant: “Ek is onwaardig …” en aan die ander kant “red my” (vs. 10 en 11). Anders as diegene wat lyk asof hulle alles kan beheer, was Jakob maar te bewus van die feit dat alles wat hy na die Here gebring het, deur sonde geruïneer is. Hy het gedink hy is nie God se genade werd nie. Maar sy hoop het nie in homself gesetel nie, maar in God se belofte dat Hy diegene wat hulleself voor Hom neerwerp, genadig sal wees. Nederigheid en sondeberou is die sleutels wat God se hart oopsluit. Soos wat God aan Jakob gedoen het, sal Hy ook vir ons doen, as ons nederig om genade pleit.