In hierdie tydperk waar videotegnologie beskikbaar is, is dit moeilik om te glo dat baie onderwysers steeds ’n flenniebord gebruik om Bybelstories aan die kinders oor te dra. Ek onthou hoedat my Sondagskoolonderwysers daardie plat aanplakborde gebruik het waarop hulle prente van David, Daniël, Jona, Jesus en ander karakters kon vasheg. Hierdie borde het die onderwysers gehelp om die inhoud van die Bybelverhaal op ’n kunstige wyse oor te dra. Daardie ou aanplakborde is nie die oudste grafiese toestel waardeur kennis oorgedra kon word nie. God het lank tevore reeds sy eie grafiese toestel gehad en dit word die skepping genoem. Hy gebruik die wonder van die skepping om ons te leer en sy almag aan ons te toon. In Psalm 19:2 skryf Dawid: “Die hemel getuig van die mag van God, die uitspansel maak die werk van sy hande bekend.” God het Homself so duidelik in die Skepping aan ons geopenbaar dat Paulus kon verklaar: “Van die skepping van die wêreld af kan ’n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is” (Romeine 1:20). Niemand kan dus ’n verskoning aanvoer nie. Waarom nie? Want op die flenniebord van God se Skepping sien ons die orde en ontwerp van God. Ons sien sy heerlikheid en almag. En dit behoort ons tot lofprysing en aanbidding te dring. “Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde” (Ps. 8:2).