Die skryfster, Mary Pipher, vertel in haar boek, Another Country, van mense in hulle sewentigs, tagtigs en negentigs en al die verskillende situasies waarmee hulle gekonfronteer word. “Ek wou die land van die bejaardes verstaan” skryf Pipher. “Ons is nie so georganiseer dat oudword maklik is nie.” Volgens haar is die wortel van die probleem dat oud en jonk van mekaar gedistansiëer geraak het, tot nadeel van albei groepe. Hierdie sosiale verskynsel is nie iets wat noodwendig doelbewus gebeur nie. Maar baie mense ontduik hulle verantwoordelikhede teenoor bejaarde familielede. In Jesus se dae het die Fariseërs ook kreatiewe maniere gevind waarop hulle hulle verpligtinge teenoor bejaarde familielede kon ontduik. In Markus 7:9-16 lees ons dat Jesus die Fariseërs bestraf oor hulle praktyk om hulle materiële besittings aan God toe te wy (dit as korban te verklaar) eerder as om dit te gebruik om vir hulle ouers te sorg. Hulle tradisie het God se opdrag om vader en moeder te eer, geskend. Ons kinders, ons werk en kerklike aktiwiteite, kan ons baie besig hou. Maar dis nog geen rede waarom ons ons bejaarde ouers moet verwaarloos nie. Ons moet vir hulle sorg sover as wat dit vir ons moontlik is (1 Timoteus 5:8). Ons sal ook eendag oud word. Laat ons hoop dat ons die regte voorbeeld aan ons kinders gestel het en dat hulle ons voorbeeld sal navolg.