Niemand wil graag swak wees nie, daarom probeer ons almal om onsself sterk voor te doen. Sommige van ons gebruik die krag van ons emosies om ander te manipuleer – ander weer gebruik die krag van die persoonlikheid en die intellek om te intimideer. Alhoewel al hierdie metodes die skyn van krag wek, is dit in werklikheid tekens van swakheid. Indien ons regtig sterk is, het ons die moed om ons eie beperkinge te erken en ons afhanklikheid van God te bely. Gevolglik kan dit soms wees dat ware krag eintlik soos swakheid lyk. Toe Paulus gebid het dat die doring in die vlees van hom weggeneem moet word, het God gesê: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is” (2 Kor. 12:9). Paulus het met hierdie verontrustende woorde reageer: “Want as ek swak is, is ek sterk” (vs. 10). Teen die einde van Jesus se bediening op aarde het sommige van sy dissipels na belangrike posisies gestrewe. Jesus het hulle argumente gebruik as ’n geleentheid om hulle te leer dat dinge in sy koninkryk anders werk: grootheid en belangrikheid kom juis wanneer iemand gewillig is om te dien (Matteus 20:26). Dis ’n harde waarheid. Ek verkies die illusie van krag eerder as die realiteit van swakheid. Maar God wil hê ons moet verstaan dat ware krag sigbaar word wanneer ons ophou om ander te manipuleer en begin om diensbaar te wees.