Gedurende ’n reis na die Verre Ooste het ek ’n buitengewone altaar besoek. Dit het bestaan uit honderde beelde. Volgens ons toergids sou die aanbidders een standbeeld uitkies wat in hulle opinie die meeste na een van hulle voorvaders lyk, en dit dan aanbid. ’n Paar jaar gelede het ek gelees van ’n student, Le Thai. Hy was ’n voorvaderaanbidder en het groot troos daarin gevind om tot sy oorlede ouma te bid. Omdat hy haar liefgehad en vertrou het, het hy sy gebedstye kosbaar gevind. Maar toe Le Thai vanaf Vietnam na die VSA gekom het, het hy met die Christelike geloof in aanraking gekom. Aanvanklik het dit vir hom soos ’n feëverhaal geklink Hy het dit beskou as die aanbidding van ’n “vreemde god” (Handelinge 17:18). Toe het ’n Christenvriend hom genooi om hom op Kersdag te besoek. Hy het toe gesien hoe ’n Christengesin funksioneer en hy het die verhaal van Jesus gehoor. Le Thai het aandagtig geluister. Hy het Johannes 3 gelees oor die wedergeboorte en hy het vrae gestel. Toe het die Heilige Gees in hom begin werk en eindelik het hy besef dat die Christelike geloof die waarheid is en Hy het Jesus as sy Saligmaker aangeneem. Wanneer ’n vriend die Christelike geloof as ’n vreemde godsdiens beskou, moet ons die evangelie op ’n liefdevolle wyse oordra en die geleentheid vir vrae bied. Dan moet ons die Heilige Gees vertrou om sy werk te doen.