San Francisco en New York Stad gebruik varswatervisse om vas te stel of daar gifstowwe in hulle watervoorraad is. Hulle vrees dat terroriste moontlik die watervoorraad kan teiken. Daarom word ’n klein aantal varswatervisse in ’n tenk aangehou omdat die visse baie sensitief vir chemiese wanbalanse is. Wanneer daar iets verdags in die water teenwoordig is, toon die varswatervisse ’n definitiewe reaksie. So wou Paulus ook hê dat die Galasiërs op hulle hoede moes wees vir enige onreëlmatighede wat in die “ware evangelie” wat verkondig word, ingesluip het. Die gifstof wat in omloop was, was die valse lering dat God mense aanneem en hulle as regverdig beskou, op grond van die feit dat hulle ’n stel reëls en uiterlike wette gehoorsaam (veral die besnydenis en die dieëtkundige wette). Kortom kan ons sê dat gehoorsaamheid aan die wet die vereiste was, en nie die geloof in Jesus Christus alleen nie. Hierdie valse lering was die gifstof wat die waarheid vertroebel het, en die Galasiërs is dringend gewaarsku om daarteen op te tree. Paulus sê dat enigeen wat ’n evangelie verkondig wat in stryd is met redding uit genade deur geloof in Jesus alleen, vervloek is (Galasiërs 1:8-9). Laat ons die Bybel getrou bestudeer sodat ons die gifstowwe en dwalinge kan ontdek en slegs die ware evangelie, redding deur Jesus Christus alleen, kan verkondig.