Gedurende die groot depressie in Amerika het baie mense in krotbuurtes in gehuggies van hout, seile en komberse gewoon. Hierdie vervalle huisies het bekend gestaan as “Hoovervilles” en dit was die huise van diegene wat uit hulle vorige wonings uitgesit is. Baie van die mense het president Herbert Hoover vir die ekonomiese ellende blameer. Dis ironies dat Hoover se skynbare mislukking as leier in skerp kontras staan teenoor dit wat hy vroeër gedoen het. As geologiese ingenieur het Hoover vroeër suksesvolle mynprojekte in Australië en Sjina hanteer. Hy het ook humanitêre aksies suksesvol geloots. Maar toe die effektebeurs in Oktober 1929 ineengestort het, was president Hoover nie in staat om sake te hanteer nie. Hy sal altyd met die ekonomiese depressie van 1930 verbind word. Een groot fiasko beteken egter nie dat ’n persoon se hele lewe ’n mislukking is nie. Sê nou maar ons sou Abraham net as ’n bedrieër onthou (Genesis 12:10-20), of Moses net as ongehoorsaam aan God (Numeri 20:1-13) of Dawid net as ’n moordenaar (2 Samuel 11). Ten spyte van hulle sondes en tekortkominge word hierdie manne onthou vir hulle volhardende geloof: “Deur die geloof … het hulle in swakheid krag ontvang” (Hebreërs 11:33-34). Ons lewe is nie ’n mislukking nie as ons ons sonde teenoor God bely het. God kan ons nog gebruik as ons bereid is om Hom te dien.