Waarom neem dit so lank vir my hare om droog te word? Ek was haastig en wou nie in die koue winterweer buite toe gaan met my hare wat nog nat is nie. Toe skielik ontdek ek wat fout is. Ek het die temperatuur van my haardroër op “lou” gestel in plaas van op “warm” aangesien my niggie dit so wou gehad het en vergeet om dit weer reg te stel. Soms het ek al gewens dat ek die situasies in die lewe net so maklik kon verander as wat ek die temperatuur van my droër kan stel. Ek sou ’n gematigde temperatuur kies, nie te warm nie en ook nie te koud nie. Ek sou nie die hitte van beproewing kies nie. Maar op die geestelike terrein moet ons nie net warm wees nie, maar heilig, en om heilig te wees beteken dat ons soms deur vuur gelouter moet word. Heiligmaking beteken om vir God afgesonder te word – om van alles wat onrein is geskei te word. Om ons te heilig, lei die Here ons soms deur die vuur. Jesaja sê: “As jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie” (Jesaja 43:2). In die Engelse vertaling word die woord when gebruik. Die vuur sal dus kom, nie as nie, maar wanneer. Petrus sê dat lyding beslis sal kom en dat ons nie verbaas moet wees nie (1 Pet. 4:12). Niemand van ons weet wanneer ons deur die vuur sal gaan en hoe warm dit sal wees nie. Maar ons weet God wil ons reinig en nie vernietig nie.