Die Sjinese Nuwejaar het in 2010 toevallig op dieselfde dag as Valentynsdag geval. Alhoewel hierdie twee feesdae baie verskillende oorspronge het, is daar tog sekere ooreenkomste in hoe die dae gevier word. In beide gevalle gee geliefdes aan mekaar geskenke om so hulle emosie uit te druk. Of dit nou rooi rose op Valentynsdag is, of hong bao (rooi sakkies met geld in) op die Sjinese Nuwejaar wat aan geliefdes gegee word, albei hierdie geskenke is blyke van liefde. Ons Here Jesus het sy dissipels beveel om “mekaar lief te hê” want “as julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is” (Johannes 13:34-35). Die liefde wat ons Here Jesus wil hê ons moet teenoor mekaar betoon, is anders as die romantiese tipe liefde tussen verliefdes of die broederlike liefde wat familielede en vriende aan mekaar betoon. Dit is ’n onselfsugtige, dienende liefde. Die Griekse woord wat Johannes gebruik is agape – God se tipe liefde wat niks terug verwag nie. Dis dié tipe liefde wat Jesus teenoor sy dissipels betoon het toe Hy “water in ’n wasskottel gegooi [het] en begin [het] om sy dissipels se voete te was” (Johannes 13:5). Dis dié tipe liefde wat Jesus betoon het toe Hy vrywillig na die kruis op Golgota gegaan het ter wille van ons en vir ons gesterf het. Wil jy nie vandag op die uitkyk wees vir iemand aan wie jy hierdie onselfsugtige liefde kan betoon nie?