Baie Sjinese sal groot moeite doen om die tradisionele jaarlikse familie reünies by te woon. Hierdie etes vind gewoonlik op Maan Nuwejaar plaas en word in die huis van die ouers of die oudste kind gehou. Sjinese wat oorsee werk, moet vroegtydig die lughawens kontak en besprekings vir hulle vlugte doen, aangesien vlugte daardie tyd baie vol is. Ook die busse is volbespreek. Om na te laat om betyds te bespreek, kan daartoe lei dat die reünie misgeloop word. Die Bybel vertel ons van ’n baie belangriker reünie wat eendag in die hemel gehou sal word. Openbaring noem dit “die bruilofsmaal van die Lam” (Openb. 19:9). Anders as met die Maan Nuwejaarsetes weet niemand wanneer hierdie bruilofsmaal sal plaasvind nie, niemand nie behalwe God alleen (Matteus 24:36). En ons hoef ook nie oor besprekings vir die reis bekommerd te wees nie. Wie word na hierdie hemelse ete uitgenooi? Almal wat aan die familie van die Here God behoort, sal daar wees “dié wat in Hom glo … hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ’n mens of die besluit van ’n man nie, maar hulle is uit God gebore” (Johannes 1:12-13). My vriend, sal jy by daardie hemelse huweliksmaal teenwoordig wees? Jy kan vir jou ’n plek daar verseker indien jy Jesus Christus vandag as jou persoonlike Saligmaker aanneem en op Hom alleen vertrou. Dis die belangrikste besluit wat jy ooit sal neem.