’n Amerikaanse besigheidsman, Mark Bent, het ongeveer 250,000 dollar spandeer om ’n bekostigbare flitslig te ontwerp wat deur sonkrag bekragtig word. Duisende is al gratis of teen lae pryse onder mense in Afrikalande versprei. Deur die flitsligte daagliks aan sonkrag bloot te stel, kan die mense vir sewe ure lank lig hê in huise, skole en mediese klinieke waar duisternis voorheen tot misdaad en probleme aanleiding gegee het. Die kontras tussen lig en duisternis is ’n beeld wat dikwels in die Bybel gebruik word en veral in die uitbeelding van Jesus, die Messias. “Die volk wat in donkerte geleef het, het ’n groot lig gesien, oor dié wat in die donker land was, het ’n lig geskyn” (Jesaja 9:1). “In Hom [Jesus] was daar lewe, en dié lewe was die lig vir die mense. Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie” (Johannes 1:4,5). Dis ons voorreg as kinders van die Here om Jesus se ligdraers te wees. Paulus het die Christene in Filippi aangemoedig om “ligdraers in die wêreld [te wees] deur die woord van die lewe uit te dra”. Die Filippense moet “bo alle verdenking staan en opreg bly” (Filippense 2:15). Is ons nog besig om dit te doen? In plaas van om bang te wees vir die duisternis wat tans in die wêreld heers, moet ons op die Here vertrou en deur sy genade ligdraers wees en sy kosbare boodskap oral verkondig. –David McCasland