Gedurende 1955 toe segregasie in die suide van Amerika nog baie streng gehandhaaf is, het Emmett Till, ’n swart tiener van Chicago, familie in Mississippi besoek. Nadat hy dit gewaag het om met ’n blanke vrou te praat, het twee blankes hom vermoor. ’n Blanke jurie, wat net uit mans bestaan het, het die twee onskuldig bevind nadat hulle slegs een uur gekonfereer het. Die twee mans het later in Life tydskrif skuld erken. Nadat die uitspraak gegee is, het Emmett se ma gesê: “Twee maande gelede het ek ’n gerieflike woonplek in Chicago gehad. Ek het ’n goeie werk en ’n seun gehad. Toe dinge in die Suide met negers gebeur het, het ek gesê: ‘Dis hulle besigheid, nie myne nie.’ Nou besef ek hoe verkeerd ek was. Die moord van my seun het getoon dat wat met enigeen van ons op enige plek gebeur, almal van ons se besigheid behoort te wees.” Levitikus 19:18 moedig ons aan om ons naaste se belange op die hart te dra: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Jesus haal hierdie teks aan en interpreteer dit so dat ons nie beperkinge op ander mag plaas nie (Matteus 22:39; Lukas 10:25-37). Ons naaste is nie net ons onmiddelike buurman nie, maar enigeen wat nood het. Ons moet vir ander omgee soos ons vir onsself omgee. Om ons naaste lief te hê beteken dat ons die ongeregtighede wat aan ander gedoen word, ons eie moet maak. Dit is die taak van elke Christen.