I n Psalm 139 beskrywe Dawid hoe God sy klein liggaampie in die donker skoot van sy moeder gevorm het. Ja, God het Dawid liefgehad nog lank voordat hy eers gebore is en bestaan het. God het Dawid geskep en gevorm soos wat Hy hom wou gehad het, volgens sy ewige raadsplan. Dawid gebruik ’n besondere metafoor in hierdie psalm. Hy sê God het ’n joernaal geskryf waarin Hy sy plan uiteengesit het, die plan wat Hy later tot uitvoering sou bring deur die werk in die moederskoot. “U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in u boek opgeskrywe nog voordat ek gebore is” (Psalm 139:16). Anders gestel kan ons sê dat Dawid deur sy Vader se liefde as ’n unieke skepsel geskep is. Hy kom uit die hart en hand van God self, dié God wat almagtig en ewig is. En wat waar is van Dawid, is waar ook van jou en my. Jy is baie spesiaal – ja, jy en alle ander mense in hierdie ou wêreld. Omdat dit waar is, moet ons die lewe eerbiedig en dit altyd beskerm. Ons moet alle menslike lewe respekteer, ja selfs dié wat nog ongebore en in die moederskoot is. Ons moet kinders, maar ook bejaardes met respek en deernis behandel – ja, die welgestelde besigheidsman en die brandarm bedelaar. Alle mense is unieke skepsels deur God gemaak. Laat ons dan saam met Dawid uitroep: “Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep” (Psalm 139:14).