In 1854 het die Russiese digter en diplomaat, Fyodor Tiutchev, die skrikwekkende wêreldtoestande in ’n brief aan sy vrou beskrywe: “Wat verwarrend is, is die oortuiging – en dit word al hoe meer geredelik aanvaar – dat al die gevare wat ons bedreig en die rigting wat wêreldgebeure inneem, nie langer verstaanbaar is nie. Dis byna asof ’n mens in ’n koets is en teen ’n gevaarlike, steil afdraande afry en dan meteens besef dat daar geen koetsier in die koets is nie.”
Dit is inderdaad so dat die wêreld soos ’n voertuig sonder bestuurder is, wat teen ’n snelle spoed deur die donker nag jaag en ’n verskriklike einde tegemoetgaan. Daar is rassekonflik, godsdienstige onenigheid, nuwe siektes en epidemies, baie oorloë en misdaad. Dit alles laat ons voel asof die wêreld regtig buite beheer is en op ’n ontsettende chaos afstuur.
Maar die Christen beskou hierdie ontstellende toneel met ander oë. Ons glo dat alhoewel Satan die heerser van hierdie wêreld genoem word, is die Here God nog in beheer. Ons het vertroue in die woorde van Jesaja, toe hy gesê het dat Hy “alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit.” God laat alles gebeur soos Hy hom voorgeneem het (Efesiërs 1:11) “Die Here, die Almagtige het dit besluit; wie sal dit kan verydel? Sy hand is uitgesteek; wie sal die oordeel kan afweer” ( Jesaja 14:27).
Te midde van al die verwarring het die Christen hoop. – Dave Egner