Kerskaarte skilder dikwels ’n mooi prentjie van Maria, Josef en die Kind Jesus. Hulle word met ’n ligglans omgewe. Maar tog het Jesus se geboorte in ’n baie ongewone plek plaasgevind. Hy is in ’n krip neergelê. Hierdie nederige omgewing illustreer die wonder van die menswording – die ewige God het Homself verneder en van die hemelse hoogtes neergedaal na die dieptes van die aarde.
Andrew Murray verwys na die woorde van Jesus in Johannes 1:51 en wys op die dramatiese kontras toe hy gesê het: “Die wese van ons Here Jesus is oneindig. Aan die een kant raak dit die hoogtes van die Godheid en aan die ander kant die dieptes van menswees. Om Jesus se vergelyking te gebruik (Joh. 1:51), dis soos ’n geheime leer wat in die droom van die wandelaar (Jakob), die verre dieptes van die hemelruim (waar die lig helderder is as die son, die maan en die lig van die Shekinah,) verbind met die aarde, bestrooi met rotse, soos dié waarop sy kop rus. Aan die een kant die titel, Seun van God en aan die ander kant, Seun van die Mens.”
Jesus, Seun van God, in al sy heerlikheid, het Seun van die Mens geword – in al sy mensheid, maar sonder sonde. Sy dood waarborg vergifnis van sonde en die ewige lewe as ons Hom aanneem. Omdat God in Christus van die hemel na die aarde neergedaal het, kan ons van die aarde na die hemel gaan, deur geloof in Hom. – Dave Egner