’n Seuntjie het na die hemel opgekyk en sy mammie gevra: “Is God daarbo?” Toe sy bevestigend antwoord, het hy gesê: “Sou dit nie wonderlik wees as Hy sy kop wou uitsteek, sodat ons Hom kon sien nie?”
Wat die seuntjie nie verstaan het nie, is dat God Homself wel aan ons geopenbaar het en dit in die persoon van sy Seun. Deurdat Hy Christus na die wêreld toe gestuur het as ’n mens, het die hemelse Vader Homself volledig aan ons openbaar. “As mens het Jesus in die wêreld gekom” (1 Tim, 3:16).
Christus het hierdie punt duidelik gemaak toe Hy aan Filippus gesê het: “Wie My sien, sien die Vader” (Joh. 14:9). Dis die goeie nuus wat ons veral tydens Kersfees vier. Jesus het die hemelse heerlikheid verlaat en na hierdie wêreld gekom en is uit ’n jong maagd gebore. Die baba, wat Maria daar in Betlehem vasgehou het, was die ”beeld van die onsigbare God.” Al die wonderlike eienskappe van God was in Hom teenwoordig. Om die waarheid te sê, Hy was die Een deur Wie God “alles geskep” het “en deur Hom bly alles in stand” (Kol. 1:16,17).
As ons opkyk in die gelaat van ons Verlosser, dan sien ons sy heiligheid, sy genade en die liefde van ons hemelse Vader. Daardie wete behoort ons so met dankbaarheid te vul dat ons net wil jubel en dank. Ja, ons kyk na God, dié God wat uit die hemel neergedaal het en na ons op aarde gekom het! Christus is Immanuel – God met ons.