My vrou het die kamer binnegestap en my met my kop in die kabinet van ons staanhorlosie gevind. “Wat maak jy?” vra sy. “Hierdie ou staanhorlosie ruik net soos my ouers se huis,” het ek verleë geantwoord, terwyl ek die deurtjie toegemaak het. “Ek dink jy kan sê ek het vir ’n oomblik huis toe gegaan.” Die sin van reuk kan kragtige herinneringe oproep. Ons het die staanhorlosie byna twintig jaar gelede, van oorkant die land, uit my ouerhuis verskuif, maar die reuk van die hout binne-in neem my nog terug na my kinderdae toe. Die skrywer van Hebreërs vertel van andere wat, op ’n ander manier verlang het huis toe. In plaas van om terug te kyk, het hulle met geloof vorentoe na hul tuiste in die hemel gekyk. Selfs al het dít waarop hulle gehoop het nog ver gelyk, het hulle vertrou
dat God getrou sal wees aan Sy belofte om hulle na ’n plek te neem waar hulle vir ewig saam met Hom sal wees (HEBREËRS 11:13-16). Filippense 3:20 herinner ons daaraan dat “ons burgers van die hemel [is],” en “van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag.” Om na Christus Jesus uit te sien en die ontvangs van alles wat God aan ons, deur Hom, belowe het help ons om ons fokus te behou. Die verlede of die hede kan nooit vergelyk word met wat die toekoms vir ons inhou nie!