T ydens ’n uitstappie in ’n nabygeleë park het ek en my kinders ’n paar loslopende honde teëgekom. Dit het gelyk asof die eienaar van die honde onbewus was, dat sy hond besig was om my seuntjie te intimideer. My seuntjie het probeer om die hond te verjaag, maar die dier was net meer vasbeslote om hom te pla. Uiteindelik was my seuntjie paniekbevange. Hy het etlike meters verder weggehardloop, maar die hond het hom bly agtervolg. Die jaagtog het voortgeduur totdat ek geskree het, “Hardloop na my toe!” My seuntjie het omgespring en na my toe
gehardloop, daar het hy bedaar, en die hond het uiteindelik besluit om elders kwaad te gaan stook. Daar is oomblikke in ons lewens dat God na ons roep en sê: “Hardloop na My toe!” Iets hinderliks is op ons hakke. Hoe vinniger en verder ons gaan, hoe nader agtervolg dit ons. Ons kan dit nie afskud nie. Ons is te bang om om te draai en die moeilikheid op ons eie te trotseer. Maar die werklikheid is dat ons nié op ons eie is nie. God is altyd daar, gereed om ons te help en te troos. Al wat ons moet doen, is om weg te draai van alles wat ons ontstel, en in Sy rigting te beweeg. Sy Woord sê, “Die Naam van die Here is ’n sterk vesting; die regverdige vind daar skuiling” (SPREUKE 18:10).