Ek het ’n pragtige foto van ’n jong man wat in die herfsgekleurde Coloradoberge op ’n perd sit en oorweeg watter een van die paaie voor hom hy sal inslaan. Dit herinner my aan die gedig van Robert Frost: “The road not taken.” Daarin peins Frost oor twee uitgange voor hom. Albei lyk ewe aanloklik, maar hy twyfel of hy weer na hierdie plek sal terugkom en moet dus een van die twee kies. Hy skryf: “Twee paaie skei in ’n woud, en ek … ek het die een geneem wat nie dikwels gebruik word nie,” en dít het die verskil gemaak.

In Jesus se bergrede (Matt. 5–7) sê Hy aan die mense: “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min” (7:13–14).

Dwarsdeur ons lewe kom ons dikwels voor keuses te staan oor die pad vorentoe. Baie daarvan lyk belowend en aanloklik, maar slegs een pad lei na die lewe. Jesus roep ons op om die pad van dissipelskap en gehoorsaamheid aan God se Woord te kies en nie die skares te volg nie.

Mag God ons die wysheid en moed gee om Sy pad – die pad van die lewe – te volg wanneer ons oor die pad vorentoe besin. Dit sal die saak vir ons sowel as dié wat ons liefhet, verander.