As ’n jong ma was ek vasbeslote om rekord te hou van die eerste jaar van my dogter se lewe. Ek het elke maand foto’s geneem om te wys hoe sy verander en gegroei het. In een van my gunstelingfoto’s sit sy in ’n uitgeholde pampoen wat ek by ’n boer gekoop het. Daar sit sy toe – die vreugde van my hart – binne-in ’n oorgroot pampoen. In die daaropvolgende weke het die pampoen verlep, terwyl my dogter steeds gegroei en gefloreer het.

Paulus se beskrywing van ons kennis oor wie Jesus is, herinner my aan die foto. Hy vergelyk die kennis van Jesus wat ons in ons harte omdra, met ’n skat wat in ’n kleipot gebêre word. Ons kennis van wat Hy vir ons gedoen het, gee ons die moed en krag om in ons stryd te volhard ten spyte van alles waardeur ons “verdruk” word (2 Kor. 4:8). Danksy God se krag in ons lewe vertoon ons Jesus se lewe wanneer ons “neergegooi, maar nie vernietig” word nie (vs. 9).

Net soos die pampoen wat verlep het, voel ons ook dalk die slytasie vanweë ons beproewings. Tog kan Jesus se blydskap in ons bly groei ten spyte van daardie uitdagings. Ons kennis van Hom – Sy krag wat in ons lewe aan die werk is – is die skat wat in ons brose liggame van klei gebêre word. Ons kan te midde van swaarkry floreer juis omdat Sy krag in ons aan die werk is.