Teresa Prekerowa was ’n tiener toe die Nazi’s haar vaderland, Pole, aan die begin van die Tweede Wêreldoorlog binnegeval het. Dít was met die aanvang van die Joodse volksmoord toe haar Joodse bure, wat deur die Nazi’s aangekeer is, begin verdwyn het. Teresa en van haar volksgenote het hul lewens gewaag om daardie bure uit die Warsau-ghetto en van die Nazi-suiwering te red. Sy sou een van die belangrikste historici van die oorlog en Jodeslagting word, tog was dit om haar moed om teen die vloed van boosheid op te staan dat haar naam saam met die Regverdiges Onder Die Nasies in die Yad Vashem Holocaust Memorial in Jerusalem opgeteken is.

Dit kos moed om die bose te weerstaan. Paulus sê aan die kerk in Efese: “Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen elke mag en gesag … gees wat heers … bose gees in die lug” (Ef. 6:12). Ons kan nié alleen weerstand bied teen die onsigbare vyand nie, daarom dat God ons die vereiste geestelike hulpmiddels (die volle wapenrusting van God) gee sodat ons op ons pos kan bly ondanks die “aanslae van die duiwel” (vs. 11).

Hoe bly ’n mens staan? Dalk om onreg teë te werk of vir iemand wat broos is of veronreg word te hulp te kom. Ons kan moed skep ongeag die aard van die konflik – ons God het reeds die nodige voorsien sodat ons vír Hom en teen die bose kan staan.