’n Paar salmvissers het ná ’n lang dag van visvangs in ’n Skotse herberg byeengekom. Een het vir sy vriende van sy vangs vertel, sy arm wyd geswaai, ’n glas getref, waarna dit teen die muur versplinter en ’n kol op die witgepleisterde oppervlak gelaat het. Die man het die herbergier om verskoning gevra en aangebied om vir die skade te betaal. “Moenie jou bekommer nie,” het iemand gesê. Die man het ’n kunswerktuig uit sy sak gehaal en om die lelike vlek begin teken. Die kop van ’n manjifieke takbok het vorm aangeneem. Dié man was Sir E. H. Landseer – Skotland se belangrikste kunstenaar van diere.

Dawid, Israel se beroemde koning wat Psalm 51 geskryf het, het deur sy sonde homself en sy volk in die skande gebring. Hy het egbreuk gepleeg met ’n vrou asook haar man se dood bewerkstellig – albei dade het die doodstraf verdien. Dit het gelyk asof Dawid se lewe geruïneer was. Hy het by God gepleit: “Skep vir my ’n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig” (vs. 12).

Ons het, net soos Dawid, skandes in ons verlede en gepaardgaande herinneringe wat ons in die middel van die nag teister. Daar is so baie wat ons wens ons ongedaan kan maak of oordoen.

Daar is egter ’n genade wat nie net sonde vergewe nie, maar dit gebruik om ons beter as tevore te maak. God verkwis niks nie.