’n Albino Boggelrug walvis is verskeie kere langs die kus van Suid-Queensland, Australië, opgemerk. Hierdie pragtige vis van oor die twaalf meter is so skaars dat Australië ’n wet vir sy bewaring afgekondig het.

Die Bybel vertel ook van ’n rare groot vis wat God spesiaal voorsien het om Jona in te sluk omdat hy nie God se opdrag om die stad Nineve te gaan aanspreek, wou uitvoer nie (Jona 1:17). Jona wou niks met die Nineviete te doen hê nie en het besluit om eerder te vlug. Binne-in die vis het Jona egter tot inkeer gekom. Uiteindelik het hy vir die Nineviete gepreek en het ook hulle tot inkeer gekom (3:5–10).

Terwyl die mense van Nineve egter besig was om tot inkeer te kom, het Jona kwaad tot God gebid en gesê: “Ek het geweet U is ’n genadigde en barmhartige God, lankmoedig en vol liefde” (4:2). Alhoewel hy van ’n seker dood gered is, het sy sondige kwaadheid so gegroei dat selfs in sy gebed hy eerder wou sterf (vs. 3).

Jona se verhaal gaan nie oor ’n vis nie. Dit gaan oor die menslike natuur en die natuur van die God wat ons volg. Petrus het geskryf: “Hy is geduldig met julle omdat Hy nie wil hê dat iemand verlore gaan nie; Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer” (2 Petrus 3:9). God bied sy liefde aan wrede Nineviete, dikmond profete en aan jou en my aan.