Kunstenaar en sendeling Lilias Trotter het kort voor haar dood by’n venster uitgekyk en ’n visioen van ’n hemelse strydwa gesien. Toe aan haar gevra is wat sy sien, was haar antwoord: “Vele pragtige goed.”

Trotter se woorde het God se werk in haar lewe weerkaats. Nie slegs in die dood nie maar regdeur haar lewe het Hy baie skoonheid aan en deur haar geopenbaar. Alhoewel sy ’n baie talentvolle kunstenaar was, het sy gekies om Jesus as ’n sendeling in Algerië te dien. Dit word vertel dat haar leermeester, John Ruskin, hieroor opgemerk het: “Wat ’n vermorsing.”

In die Nuwe Testament lees ons van ’n vrou wat ’n albaste fles egte, baie duur nardusolie na die huis van Simon die melaatse geneem het en dit oor Jesus se voete uitgegiet het. Die mense het dit as ’n vermorsing gesien. Hulle redenasie was dat die olie ’n jaar se loon werd was en dat dit eerder verkoop en die geld vir die armes gegee kon word. Jesus het haar nietemin vir haar toewyding geprys en gesê: “Sy het ’n goeie daad aan My gedoen” (Markus 14:6).

Ons kan elke dag kies dat Christus se lewe in ons lewens skyn en Sy prag sodoende aan die wêreld vertoon word. Vir sommige mag dit as ’n vermorsing voorkom, maar laat ons Hom met gewillige harte dien. Mag Jesus sê dat ons baie mooi goed vir Hom gedoen het.