Elizabeth was ’n dwelmverslaafde en het lank gesukkel om die verslawing te breek. Sy het dit nietemin later oorwin en wou daarna graag ander uit dankbaarheid help. Sy het begin deur anonieme notas deur die stad te versprei deur dit onder motors se ruitveërs te plaas en aan pale in parke vas te kram. Waar sy voorheen na tekens van hoop gesoek het, laat sy nou hoop agter vir ander om te vind. Een van haar notas het afgesluit met die woorde: “Baie liefde. Hoop gestuur.”

Hoop met liefde – dit is wat Jesus bied. Met elke nuwe dag bied Hy aan ons Sy liefde en versterk Hy ons met daardie hoop. Sy liefde word nie druppel vir druppel aan ons gerantsoneer nie. Dit vloei vrylik uit Sy hart en word oorvloediglik in ons harte gestort. “… en die hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat hy aan ons gegee het” (Romeine 5:5). Hy gebruik graag swaar tye om volharding en egtheid van geloof in ons te ontwikkel en sodoende aan ons ’n tevrede, hoopgevulde lewe te gee (vv. 3–4). Selfs al is ons ver van Hom af, het Hy ons nog steeds lief (vv. 6–8).

Soek jy na tekens van hoop? Die Here skenk hoop deur liefde as Hy ons uitnooi om in ’n persoonlike verhouding met Hom te groei. Ons hoop vir ’n vervulde lewe is in Sy onfeilbare liefde geanker.