Die vyfjarige Levan Merrit het in 1986 na ’n val van ses meter in ’n gorillahok in ’n dieretuin in Jersey, Engeland, beland. Terwyl sy ouers om hulp roep, het ’n uitgegroeide gorillamannetjie, Jambo, tussen die roerlose seun en verskeie ander gorillas stelling ingeneem. Toe die seun begin huil het Jambo die ander gorillas in hulle hokke ingelei terwyl Levan uit die hok gered is. Nou meer as dertig jaar later, praat Levan steeds van die saggeaarde reus wat op ’n skokkende en onverwagte wyse opgetree het.

Elia het dalk verwag dat God op sekere wyses sou optree. Maar God het ’n sterk wind wat rotse breek, ’n aardbewing en ’n vuur gebruik om aan Elia te toon hoe om nie van Hom te dink nie. Toe gebruik God ’n fluistering in die windstilte om Sy hart aan Elia te toon en Sy teenwoordigheid uit te druk (1 Konings 19:11–12).

Elia het al voorheen God se krag gesien (18:38–39). Maar hy het nie die Een wat as die grootste en gevreesde van alle gode bekend wou wees, ten volle verstaan nie (19:10, 14). Die stille fluistering het mettertyd wel volle begrip in die kragtige saggeaardheid van Jesus gevind toe Hy gesê het: “Wie My sien, sien die Vader” (Johannes 14:9). Daarna het Hy dit kalm toegelaat om gekruisig te word – ’n onverwagse, deernisvolle daad deur die groot God wat ons liefhet.