Tydens ’n besoek aan die National September 11 Memorial in New York was ek bevoorreg om ’n foto van een van die twee weerkaatsende poele, wat deel vorm van ’n gedenktuin wat op die perseel waarop die vernietigde Wêreld Handelsentrum gestaan het, aangebring is, te kon neem. Rondom hierdie poele is die name van die byna 3000 mense wat in die terreuraanval op die geboue omgekom het, op brons panele aangebring. Later, toe ek die foto van naderby bekyk, het ek ’n vrou se hand in die foto opgemerk. Dit het op een van die name gerus. Baie mense besoek die gedenktuin van tyd tot tyd om ’n naam van iemand wat hulle onthou en lief gehad het, aan te raak.

Die profeet Jesaja het God se mense aan Sy onfeilbare liefde en besorgdheid herinner, al het hulle baie keer van Hom af weggedraai. Deur Sy profeet verseker God hulle: “Moenie bang wees nie. Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne” (Jesaja 43:1).

Dawid het in die 23ste Psalm geskryf: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes sal ek nie bang wees nie, want U is by my … U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae (vv. 4, 6).

God vergeet ons nooit. Hy ken ons name en hou ons in Sy onfeilbare liefde vas, ongeag waar ons is of wat ookal ons situasie mag wees.