Dit was ’n koue, ysige wintersoggend. Ek kon net aan een ding dink: hoe om so gou moontlik die koue tussen my warm motor en die warm gebou te kruis. Toe ek my kom kry lê ek plat op die grond. Alhoewel daar niks gebreek was nie was ek in pyn. Die pyn sou met tyd vererger en dit sou weke neem om ten volle te herstel.
Wie van ons het nog nooit geval nie? Sou dit nie lekker wees om iets of iemand te hê wat ons altyd kan regop hou nie? Daar is ongelukkig geen waarborge vir vasvoetigheid nie. Daar is wel Een wat altyd gereed is om ons, in ons soeke om God in hierdie lewe te eer, te ondersteun en voor te berei om in die volgende lewe vreugdevol voor Hom te staan.
Ons trotseer elke dag versoekings (en selfs valse leerstellings) wat ons probeer wegkeer, verwar en verstrik. Dan is dit nie ons eie pogings wat ons standvastig hou nie. Hoe gerusstellend is die wete dat as ons eerder stilbly wanneer ons in die versoeking kom om kwaad te praat, eerder eerlikheid bo kullery, eerder liefde bo haat, en eerder waarheid bo leuens kies, ons God se krag ervaar om ons van struikeling te bewaar (Judas vs. 24). Wanneer ons as goedgekeurdes by Christus se wederkoms voor God verskyn, sal die lof wat ons tans vir Sy volgehoue genade aanbied, tot in alle ewigheid weerklink (vs. 25).