Bob was moeg, warm en stowwerig na ’n lang busreis. Hy was dankbaar dat hy na ’n maaltyd saam met vriende van vriende wat in die area gewoon het, kon uitsien. Hulle het hom in hulle huis verwelkom en hy kon onmiddellik ’n gevoel van vrede ervaar. Hy het tuis, gemaklik, veilig en gewaardeerd gevoel.

Bob het gewonder hoekom hy sulke vrede in ’n onbekende plek ervaar. Hy het later sy antwoord in 2 Korintiërs, waar Paulus God se volgelinge as mense wat die “aangename geur” van Christus versprei, gevind. “Dit is presies dit,” het hy vir homself gesê. Sy gashere het na Christus “geruik.”

Wanneer Paulus sê dat God Sy mense in Christus se “triomftog” saamvoer en sodoende die geur van Sy waarheid versprei, verwys hy na ’n gebruik in die antieke wêreld. Seëvierende weermagte het altyd wierook gebrand as hulle deur die strate marsjeer het. Vir hulle ondersteuners het die reuk vreugde gebring. Net so, sê Paulus, dra God se mense ’n aangename geur na hulle wat glo. Dit is nie iets wat ons op ons eie kan voortbring nie. Dit is iets wat God verleen soos wat Hy ons in die verspreiding van kennis oor Hom lei.

Bob is my pa. Alhoewel sy ervaring meer as veertig jaar gelede plaasgevind het, het hy dit nog nooit vergeet nie. Hy vertel steeds die storie van die mense wat na God geruik het.