By die polisiestasie het konstabel Miglio moeg teen die muur geleun. Die pas afgelope ondersoek na huislike geweld het omtrent die helfte van sy skof in beslag geneem en sal hom nog lank bybly. Die nadraai was ’n seunsvriend in aanhouding, ’n jong dogter in ongevalle en ’n geskokte en verwarde moeder.
“Niks wat jy daaraan kan doen nie Vic,” was sy sersant se simpatieke reaksie. Vir party polisiebeamptes is dit moontlik om hulle werk by die werk te los. Maar nie vir Vic Miglio nie, veral nie moeilike gevalle soos hierdie laaste een nie.
Konstabel Miglio se hart reflekteer Jesus se medelye. Toe sy dissipels Hom gevra het “wie is die belangrikste in die koninkryk van die hemel?” (Matteus 18:1), het Hy ’n klein kindjie nader geroep en geantwoord: “As julle nie verander en soos kindertjies word nie, sal julle beslis nie in die koninkryk van die hemel kom nie” (vs. 3). Toe rig Hy ’n ernstige waarskuwing aan elkeen wat kinders afvallig van Hom sou maak (vs. 6). Kinders was so spesiaal vir Jesus dat Hy gesê het dat “ … hulle engele in die hemel gedurigdeur by [Sy] hemelse Vader is” (vs. 10).
Hoe gerusstellend is dit om te weet dat Jesus se liefde vir kinders verbind is aan Sy liefde vir ons! Dit is hoekom Hy ons uitnooi om deur kinderlike geloof sy seuns en dogters te word.