In ’n stadium het my vriende besef dat hul woonkamer begin sak het – daar was krake in die mure en een van die vensters kon nie oopmaak nie. Hulle vind toe uit dat die vertrek sonder ’n fondament aangebou is. Dit sou maande duur om die swak vakmanskap reg te stel en ’n nuwe fondament te lê.

Nadat die werk klaar was, het ek gaan kuier. Ek kon nie veel van ’n verskil sien nie, hoewel die krake weg was en die venster kon oopmaak. Ek het egter verstaan dat ’n stewige fondament wel belangrik is.

Dieselfde geld ons lewens.

Jesus het die gelykenis van die wyse en die dwase bouers vertel om te illustreer dat dit dwaas is om nie na Hom te luister nie (Luk. 6:46–49). Dié wat Sy woorde hoor en gehoorsaam, is soos ’n persoon wat sy huis op ’n vaste fondament bou, in teenstelling met dié wat Sy woorde verwerp. Jesus het die eersgenoemdes verseker dat hul huise staande sou bly teen storms. Hul geloof sou nie wankel nie.

Ons kan vrede vind in die wete dat wanneer ons na Jesus luister en Hom gehoorsaam, Hy ’n sterk fondament in ons lê. Deur die Bybel te lees, te bid en by ander Christene te leer, kan ons in ons liefde vir Hom groei. Wanneer ons dan die aanslae van storms soos verraad, pyn of teleurstelling teëkom, kan ons op die vaste fondament vertrou. Ons Verlosser sal die steun voorsien wat ons nodig het.