In ’n gesprek oor versoening het iemand opgemerk: “Moenie mense in tyd gevange hou nie.” Dié wyse woorde spruit uit sy waarneming dat ons geneig is om mense se foute te onthou en hulle nooit die geleentheid gee om te verander nie.

God kon Petrus verskeie kere in tyd gevange gehou het, maar Hy het nie. Petrus – die impulsiewe dissipel – het Jesus “reggehelp”, waarop die Here hom berispe het (Matt. 16:21–23). Hy het Jesus verraai (Joh. 18:15–27), net om later in ere herstel te word (21:15–19). Hy het ook bygedra tot rasseonderskeid in die kerk.

Petrus (ook Sefas genoem) het hom van die nie-Jode gedistansieer. (Gal. 2:11–12). ’n Rukkie gelede nog het hy vrylik met hulle omgegaan, maar sommige Jode wat daar aangekom het, het daarop aangedring dat die besnydenis verpligtend was vir Christen-gelowiges. Petrus het begin om die onbesnyde nie-Jode te vermy. Aangesien dit ’n terugkeer na die wet van Moses kon veroorsaak, het Paulus Petrus se gedrag as huigelary veroordeel (vs. 13).

Danksy Paulus se kragtige konfrontasie is die saak opgelos. Petrus het voortgegaan om God in die mooi gees van eenheid wat Hy vir ons bestem het, te dien.

Geen mens behoort in sy swakste oomblikke vasgevang te bly nie. In God se genade kan ons mekaar omhels, by mekaar leer, mekaar aanspreek wanneer nodig, en saamgroei in Sy liefde.