In Benjamin Bloom, die opvoedkundige sielkundige, se navorsing oor hoe om talent in jongmense te ontwikkel, het hy die kinderlewe van 150 uitstaande presteerders: atlete, kunstenaars en vakkundiges, ondersoek. Daar is bevind dat hulle een ding in gemeen het: hulle het vir lang periodes intensief geoefen.

Bloom se navorsing dui aan dat groei in enige area van ons lewe dissipline vereis. Ook wat betref ons wandel met God. Die geestelike dissipline om gereeld tyd saam met Hom deur te bring, is maar een van die maniere waarop ons vertroue in Hom kan toeneem.

Vir Daniël was ’n gedissiplineerde omgang met God ’n lewensnoodsaaklikheid. Reeds as ’n jong seun het hy deurdagte en wyse besluite geneem (1:8). Hy het ook gereeld gebid en God geprys (6:11). Sy voortdurende soeke na God het uitgeloop op ’n kwaliteitsgeloofslewe wat dié rondom hom maklik kon herken. Koning Darius het Daniël as ’n “dienaar van die lewende God” beskryf (vs. 21), en twee keer as iemand wat God met “volharding dien” (vv. 17, 21).

Ons, nes Daniël, is uiters afhanklik van God. Dis so goed om te weet dat God die begeerte om met Hom te verkeer, in ons teweegbring (Fil. 2:13). Laat ons dus elke dag tot God nader en Hom vertrou dat ons tyd saam met Hom tot oorvloedige liefde en ’n toenemende kennis en begrip van ons Verlosser (1:9-11) sal lei.