Ek hou nie juis daarvan om inkopies te doen nie. Tog is dit so ’n alledaagse deel van die lewe – iets wat gedoen moet word.

Daar is egter een aspek van hierdie taak waarna ek onverwags begin uitsien het – die betaalpunt waar Fred aan diens is. Fred omskep die oplui-en-betaalproses in ’n vermaaklikheid. Hy’s blitsvinnig, glimlag breed en dans selfs (en sing soms!) terwyl hy die (niebreekbare) aankope akrobaties in die sak laat beland. Dis duidelik dat Fred ’n werk, wat maklik as een van die verveligstes beskou kan word, geniet. Vir slegs ’n oomblik verhelder sy vrolike ingesteldheid die lewe van die mense by sy betaalpunt.

Fred se werkywer dwing my respek en bewondering af. Sy vrolike houding, begeerte om te dien en die aandag aan detail stem ooreen met die apostel Paulus se beskrywing in Kolossense ten opsigte van ons benadering tot ons werk: “Wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie” (Kol. 3:23).

Wanneer ons ’n verhouding met Jesus het, kry ons die geleentheid om Sy teenwoordigheid in ons lewe te weerspieël – ongeag ons beroep. Geen taak is te klein of te groot nie. Wanneer ons elkeen van ons verantwoordelikhede met blydskap, kreatiwiteit en voortreflikheid aanpak, het ons die geleentheid om, ongeag ons taak, ander om ons te beïnvloed.