Die SOS-morsekode is in 1905 geskep omdat matrose op ’n manier uiterste nood moes aandui. Dié kode het in 1910 opspraak verwek toe die sinkende Steamship Kentucky dit gebruik het en al 46 mense aan boord gered is.

Hoewel die SOS ’n meer onlangse uitvindsel is, is die dringende hulpgeroep so oud soos die mensdom self. Ons hoor dit dikwels in die verhaal van Josua, wat vir langer as 14 jaar teëstand van mede-Israeliete (Jos. 9:18) en onbegaanbare terreine (3:15-17) die hoof moes bied, terwyl die Israeliete die land wat God belowe het, stadigaan oorwin en hulle daar gevestig het. “Die Here was by Josua” (6:27) gedurende die stryd.

In Josua 10 help die Israeliete hul bondgenote, die Gibeoniete, wat deur 5 konings aangeval is. Josua het geweet hy het die Here se hulp nodig om so ’n groot en magtige vyand te verslaan (vs. 12). God het ’n haelstorm gestuur en selfs die son in die middel van die dag laat stilstaan om Israel ’n kans te gee om die vyand te oorwin. Josua 10:14 verklaar: “Die Here het vir Israel die oorlog gevoer.”

Indien jy jou in ’n uitdagende situasie bevind, kan jy vir God ’n SOS stuur. Die hulp sal natuurlik anders lyk as dié wat Josua gekry het – dalk onverwags ’n werk, ’n dokter wat verstaan of vrede te midde van hartseer. Wees versterk, want dít is hoe God op jou hulpgeroep antwoord en vir jou veg!